Share This Post

Ondersteuning vir leerders wat sukkel met lees en spelwerk

Ondersteuning vir leerders wat sukkel met lees en spelwerk

My Klaskamer is ‘n gratis webjoernal wat ek ‘n bietjie meer as 13 jaar gelede begin het, om ouers en opvoeders te help om jong leerders te ondersteun. Baie van die konsepte wat ek in die klaskamer en tydens oueraande aangespreek het was dikwels dieselfde, daarom het ek dit op ‘n platform gedeel waar enige iemand dit sou kon lees. Sedertdien, het My Klaskamer heelwat onderwysstudente, gesoute opvoeders, en ouers gehelp – beide in terme van idees en verskeie gratis drukbare hulpmiddels. Ek het ook my eie winkel op Teacha!, waar ek drukkervriendelike hulpmiddels in beide Afrikaans en Engels beskikbaar gestel het. Vind hiermee verskillende idees wat my – in terme van intervensie werk en remediërende ondersteuning – in die praktyk gehelp het.

Begin met algemene probleemareas in die klaskamer

Om worstelende leerders te ondersteun, probeer ek gewoonlik om moontlike vangplekke uit te wys en om probleemareas wat gereeld voorkom aan te spreek. Wanneer jong leerders bewus is van vangplekke soos lettervorming, die rigting waarin letters gedraai is (bv. die verwarring van p, d, p en q, of t en f), die volgorde van syfers in ‘n getal (bv. 12 teenoor 21), of moeilike woorde in ‘n boek, help dit hulle om gereed te wees om foute reg te stel. Wanneer probleemareas aan die hele klas genoem word, help dit almal.

Fokus op die boublokke van lees en spel

Wanneer dit by lees en spel uitdagings kom, is dit waardevol om die boublokke van lees aan te spreek – hersien die kennis van klanke en klankbewustheid, ouditiewe en visuele persepsie vaardighede, en sigwoorde. Gee geleenthede vir luidlees met ‘n maat en toets die outjies se kennis deur tekeninge of ‘n oorvertelling van die gebeure. Kan die leerder onthou wat aan die begin, in die middel, en teen die einde van ‘n storie of hoofstuk gebeur het? Kan hulle rymwoorde vir kort woorde gee? Kan hulle woordspeletjies speel – soos om die aanvangs- of eindklanke in ‘n gegewe woord te vervang? Hierdie is alles nuttige vaardighede om gereeld te hersien.

In my klaskamer, verskaf ek letterstempels en magnetiese letters aan outjies wat huiwer of worstel met spelwerk. Sodoende, kan hulle die woorde op kreatiewe wyses bou en kan ek my selfoon gebruik om foto’s van hul werk te neem, eerder as om hulle aan tradisionele speltoetse (en die gepaardgaande angs) bloot te stel.

Om die rigtingwoorde of voorsetsels te hersien is behulpsaam wanneer jy die beginpunt op ‘n werksvel wil aandui of leesrigtings wil beklemtoon. Om die leesrigting (van links na regs) te bespreek is net so belangrik soos om op die volgorde van bewerkings (bv. optelling of aftrekking van tiene en ene) te fokus.  Wanneer jy die opdrag met ‘n voorbeeld toe lig, help dit almal om die verwagtinge beter te verstaan.

Maak gebruik van visuele hulpmiddels

Wanneer ek met leerders werk wat ‘n nuwe taal moet bemeester, betrek ek heelwat voorwerpe, soos om aan kryte te raak om kleure te verduidelik, syfers by versamelings te pas, aanvangsklanke by prente te pas (bv. e is vir emmer), liedjies te sing om konsepte vas te lê, of om leerders aan lettervorming te herinner (bv. ‘Om die piering op en af’). Hierdie liedjies of rympies hoef nie formele weergawes te wees nie, want enige herhalende woorde of ritmes kan help om die nuwe idees blywend te maak.

Ons blaai dikwels deur bekende storieboeke, kyk na die prente, en bespreek die prente om nuwe woordeskat te verken voordat die storie gelees word. Aanvanklik word nuwe woorde mondelings in sinne gebruik en later skryf ons die sinne neer. Hierdie sinne kan dan saam gelees word of geïllustreer word voor ons dit lees.

Sluit tegnologie ook in

Vir Engelse woorde, gebruik ek webblaaie soos Spelling Training, waar die leerders die woorde self kan invoer, daarna kan luister, en speletjies kan speel om die spelwyses te hersien. Writing Wizard is ‘n toep (app) wat jou toelaat om enige woord in enige taal in te voer, jou uitspraak op te neem, en die woord met ‘n vinger na te trek. Laasgenoemde toep is prettig vir algar.

Ouer leerders geniet dit om tegnologiese hulpmiddels by hul werk te betrek. Vir Engelse werk, gebruik ons die Read Aloud funksie op die Microsoft Office pakket. Ons kan kort sinne of paragrawe tik en dan daarna luister. Op Google Chrome kan ‘n mens die funksie Immersive Reader aflaai en dit op die soekenjin installeer. Van hier af kan die leerder ‘n leesstuk kies en na die voorlesing luister. Indien die leerder ander tale magtig is, kan ‘n mens dieselfde aanvulling gebruik om die teks te vertaal of om woorde deur middel van ‘n geïllustreerde woordeboekfunksie te beskryf. Die leerder kan ook die agtergrondkleur van die teks verander en die grootte van die teks aanpas om leeswerk te vergemaklik.

Tussen die voorlees aanvullings en moontlikhede, wys ek aan leerders hoe ‘n mens vir Google of vir Siri kan vra om Engelse woorde te spel. Op Google Docs kan ‘n mens woorde dikteer en sal die rekenaar die inligting names jou tik. Hierdie moontlikhede help om die spannings element uit die skryfwerk te haal.

Wanneer daar navorsing op webblaaie soos Wikipedia gedoen word, verander ons die taal na Simple English. Hierdie opsie, tesame met Immersive Reader, help die outjies om meer onafhanklik te werk en om eienaarskap van hul leerwerk te neem.

Transformeer jou onderrigstyl

Tydens die COVID-19 grendeltydperk, het opvoeders wêreldwyd idees aanlyn gedeel. Heelwat onderwysers het boeke op YouTube voorgelees of wiskundige metodes verduidelik. Dit is beslis die moeite werd om verskillende idees en verduidelikings met die klas te deel, sodat worstelende leerders gehelp kan word én sodat ander leerders se kennisvlakke verryk kan word. Skep gerus jou eie stapsgewyse opnames of deel foto’s van klaskamermuurkaarte op ‘n klasblad of -webjoernaal, om die leerders met hul huiswerk of by hul tafels te help. Dit is veral behulpsaam wanneer leerders te skaam is om om hulp te vra.

Ek help graag ander opvoeders om aan oplossings te dink. Kontak my gerus op My Klaskamer of loer na my Teacha! Winkel, waar meer as 200 drukkervriendelike hulpmiddels in beide Afrikaans en Engels beskikbaar is.

Oor die skrywer:
My Klaskamer deur Juffer is al vir meer as ‘n dekade ‘n gewilde webjoernaal onder Grondslagfase onderwysers. Juffer het ook ‘n winkel op Teacha! met baie hulpmiddels (van flitskaarte en werksvelle tot plakkate en dekor) vir Grondslagfase onderwysers en ouers, in beide Afrikaans en Engels.

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.