Share This Post

Maniere hoe tegnologie leerders met disleksie en ander leerprobleme kan bevoordeel

Maniere hoe tegnologie leerders met disleksie en ander leerprobleme kan bevoordeel

Leerprobleme is nie net iets wat leerders benadeel nie, maar dit is ook ‘n groot uitdaging vir onderwysers wat hierdie leerders die beste kans op ‘n suksesvolle toekoms wil gee. Nadat leerders gediagnoseer word met ‘n leerprobleem, is dit altyd ‘n moeilike besluit vir ouers om hulle kind te los in die hoofstroomskool of te skuif na ‘n skool waar die leerder individuele aandag en hulp kan kry. Die realiteit is dat sulke skole baie duur kan wees en dat gerieflikheid, die leerder se emsionele toestand, die graad van die toestand en die beskikbaarheid van skole in die omgewing alles kan bydra dat leerders in ons oorvol klasse sit waar ons nie altyd die regte vaardighede het om hierdie leerders by te staan nie. 

Gelukkig kan tegnologie tot ons redding kom. Al het jou skool nie tablette vir die leerders nie, kan toestelle by die huis gebruik word. ‘n Ander voorstel is ook om juis hierdie leerders toe te laat en aan te moedig om wel ‘n tablet of ‘n ander tegnologiese toestel skool toe te bring om op te werk. 

Sonder om eens spesifieke apps te noem, is die gebruik van toestelle reeds baie voordelig. Leerders kan die skrif en grootte van die skrif op ‘n toestel aanpas, wat help dat leerders dit beter kan lees. Leerders met leerprobleme reageer dikwels beter op ‘n spesifieke skriftipe en daarom kan dit help om die skrif aan te pas. Toetse en eksamens kan ook opgeneem word en leerders kan eerder luister na hoe die toets gelees word, in plaas daarvan om dit self te probeer lees. Dit bied hulle ook die geleentheid om deur die gebruik van oorfone terug te gaan na vrae wat hulle nie verstaan het nie. Afhangende van die leerders se konsessie, kan die funksie gebruik word om te help met spelling.

Die gebruik van apps het baie voordele. Leerders wat reeds sukkel met leerprobleme, wil nie nog voel asof hulle harder moet werk nie, maar die gebruik van speletjies en apps wat pret is, sal die leerder aanmoedig en laat uitsien om dit te gebruik. Dit is ook iets wat in die leerder se vrye tyd gebruik kan word. Daar is ‘n magdom apps wat gebruik kan word en geen ouer wil honderde apps aflaai en duisende rande daarvoor betaal nie. Hier is dan ‘n kort lys van apps en hul beskrywing.

  1. Phonics Genius
    Leerders met disleksie moet hul fonetika gereeld oefen. Die app gebruik flitskaarte wat aanpasbaar is wat leerders leer om ‘n klank by spesifieke woorde te pas. Die een baie groot voordeel van hierdie app is dat dit gratis is. Daar is meer as 6000 woorde wat in klanke opgedeel is. Daar is funksies wat jou toelaat om klanke op te neem en weer daarna te luister. Die app help leerders om woorde te herken, te lees en uit te spreek. Dit word deur talle instansies gebruik vir leerders met leerprobleme. Dit sluit ook speletjies en “quizes” in om dit opwindend te hou.
  2. Intro to letters
    Hierdie app leer leerders ook om ‘n klank by ‘n letter te pas. Dit is ook gratis en word deur ‘n hele klomp Montessori-skole gebruik. Die app leer kinders om letters te skryf, lees en te sê. Hierdie is dalk ‘n app wat meer van toepassing is op leerders wat leer om te skryf en lees, maar leerders met disleksie kan definitief baat vind daaruit.
  3. Xander Afrikaans ABC
    Afrikaanse leerders moet dikwels in Engels werk en leer omdat daar nie baie Afrikaanse Apps beskikbaar is nie. Wel, die goeie nuus is dat hierdie App Afrikaans is. Dit is nog nie perfek nie en daar is ‘n paar uitdagings, maar die basiese klanke is daar en kan leerders reeds bystaan om die klanke en woorde te leer.
  4. ClaroSpeak
    ClaroSpeak is ‘n gratis app wat geskrewe teks oorsit in gesproke teks. Dit kan ‘n hele klomp verskillende tipes tekste lees, insluitend Word en PDF.
  5. Dragon Anywhere
    Hierdie app is ongelukkig net gratis vir die eerste week. Dit bied jou wel die geleentheid om te sien of dit die moeite werd is. Die app bied jou die kans om te praat en dit skryf dan wat jy sê. Dit is ongelukkig ook net in Engels.
  6. Learning Ally
    Hierdie app het duisende audioboeke, insluitende vir leerders en tieners. Wat hierdie app geskik maak vir leerders met leerprobleme, is eerstens dat die boek gelees word vir die leerder, die leesspoed kan aangepas word, notas kan gemaak word en die woorde wat gelees word, word aangedui sodat die leerder dit kan volg. Hierdie app is ongelukkig nie gratis nie.

Hierdie is maar net ‘n paar van die apps wat gebruik kan word vir leerders met leerprobleme. Al is hierdie lys nie volledig nie en al is nie al die apps geskik vir dit wat jou leerders spesifiek nodig het nie, hoop ek dat hierdie net ‘n bewys en aanmoediging is dat daar wel apps beskikbaar is. Dit vat net genoeg tyd en toewyding om die regte apps te vind. Daar is wel ‘n gaping in die mark omdat daar nie apps is wat spesifiek gemaak is vir leerders met leerprobleme nie. Dit is ‘n struikelblok wat hopelik in die toekoms oorkom sal kan word. Hierdie is dus net ‘n paar maniere hoe ons leerders kan help wat reeds ‘n agterstand het as gevolg van ‘n leerprobleem.

Bronne:

11 Essential Tools to Help Children with Dyslexia

10 Best Apps for Kids with Dyslexia and Learning Disabilities

Best Apps for Students With Dyslexia

Lees verder:

Share This Post

1 Comment

  1. Hi there please can you assist me on going for diplomas of becoming a reader I do reading for a dyslexia girl and when she goes to high school they require people with skills in that department and she already is used to me and her mother doesn’t want someone else to do the reading for her something like a tutor or anything where do I look up for it or apply for degrees or a diploma

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.